“Nee, julle probeer om my te troos met wind, julle is vals wanneer julle hierdie dinge vir my sê” – Job 21:34 (Bybel vir almal).
Job se vriende probeer hom troos en raad gee. Hul raad kom egter uit hulleself. Hulle is voorskriftelik en beterweterig, asof hulle al die antwoorde in pag het. Hulle het God nie eers geraadpleeg sodat hulle Job in wysheid kon bystaan nie. Tog tog kom ’n mens deur die loop van hul gesprekke agter dat Job juis weens sy vriende se wanopvattings en sinlose troospraatjies groter duidelikheid kry oor wie God teenoor hom as nietige mens is.
Chris van Wyk skryf op die webblad van die Bybelskool: “Job besef dat voorspoed en teenspoed nie aan die uitkomste in die lewe gekoppel kan en mag word nie, maar aan God self, want Hy is die bron van lewe.”
’n Mens kan nie aflei of iemand ’n regverdige of goddelose lewe lei deur na sy voorspoed of teenspoed te kyk nie. Ons mag nie as beoordelaars optree wanneer ’n ramp iemand tref nie.
In Job 41:1-2 hoor ons God se stem: “Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.”
Job besef dat álles aan God behoort en dat niks en niemand teen Hom kan standhou nie. God is soewerein. Job kan uiteindelik alles in God se hande los, want hy wéét Hy sal sorg dat die reg seëvier.
Here God, dankie dat U regverdig, goed, groot en almagtig is. Help my om so te lewe dat ek wysheid bekom. Amen.

