Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
– Romeine 12:2
Dit is amper instink by ons as mense om kwaad met kwaad te vergeld. As iemand ons slegsê, is ons eerste kniereaksie om die persoon terug sleg te sê – en sommer nóg slegter as wat hulle ons gesê het. Sonder om aan die gevolge te dink.
Ek het jare lank my onderontwikkelde oerbrein (die dom reptielbrein) gebruik en sonder om te dink blitsig gereageer op mense wat my slegsê of te na kom. Ek het my gevoel (van woede) vrye teuels gegee – meestal nie met goeie resultate nie.
Die afgelope jare het ek my reptielmanier van dink en doen verruil vir nuwe geestelik volwasse denke. Ek het my oorhoofse brein (die groter, goddelike brein wat die geheelprent sien) in stilte en afsondering by die Here begin ontwikkel. Ek het probeer vasstel hoe die Here dink.
Begin vandag en sommer elke dag jou reptieldenke by Hom vernuwe. Ons land het ’n groot tekort aan mense wat geestelik en emosioneel volwasse dink en doen.
Wanneer jy die teuels van jou ou reptiel-gedagtewêreld in die Here se hande oorgee, gebeur daar wonderlike en vernuwende dinge. Jou oorhoofse brein (nie jou ego nie) raak groter. Jy leer om ’n wag voor jou mond te sit. Jy leer herkou aan jou lelike gedagtes voordat jy dit sê. Jy leer om jou giftige gedagtes met die Here se bruisende gedagtes te vervang – tot voordeel van almal.
Bruisgebed vir nuwe denke: Here Jesus, ek wil graag vernuwe. Ek lê vandag my reptielbrein voor U neer. Leer my om al meer soos U te dink en te reageer in moeilike situasies. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
