Boodskap vir Vandag

Search

Skuld

Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

– Romeine 13:8

 

Skuld is nie ’n bruistablet vir ’n mens se gemoed nie. Dit het ʼn manier om jou blydskap te steel wanneer jy daardie koevert met die venstertjie oopskeur.

 

Ek moes onlangs ’n waterrekening van R30 000 met my kredietkaart betaal, en dit nadat ek maande lank ’n tevergeefse stryd met die munisipaliteit gevoer het. Dit was die tweede keer in drie jaar dat ek so onregverdig aangeslaan is. Ek het gevoel hoe ’n magteloosheid en

woede my gees vul. Ek was lus en verkoop my huis net daar.

 

Ek het hierdie frustrasie oor my skuld en die korrupsie in trane met die Here bespreek. In my gees het ek ervaar dat ek stil moet raak en Hom moet vertrou.

 

Die Here het my herinner aan die groot rekening wat ons verskuldig is – om as sy kinders in alle omstandighede liefdevol op te tree, al verdien mense dit nie.

 

Dit is beslis nie ’n maklike opdrag nie. In onregverdige situasies neem woede en aggressie maklik by ons oor. Ek het destyds egter ʼn wilsbesluit geneem om blymoedig te bly.

 

’n Ruk later het my versekering my ingelig dat hulle ’n groot gedeelte van die skuld sal dek. Én ’n engel-sonder-naam het ’n koevert met kontant in my posbus gesit. Ek het in trane uitgebars toe ek dit kry en net vir die Here dankie gesê.

 

Probeer gerus in alle omstandighede eerstens die skuld van liefde betaal aan almal. Dit het ’n manier om onverwags na jou toe terug te keer …

 

Bruisgebed vir skuldenaars: Here, ek besef ek het ’n uitstaande rekening by U om te betaal. Ek skuld liefde aan ander mense. Gee u liefde in my hart sodat ek dit kan laat oorstroom na ander.

 

Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed