Om vry te wees! – dit is waarvoor Christus ons vrygemaak het! Maak seker dat julle vry bly en moet nie weer onder ’n slawejuk vasgebind word nie.
– Galasiërs 5:1
Wie is Christus vir jou? Hoe ervaar jy Hom? Watter eienskappe van Hom val jou op? Wat beteken Hy in jou lewe? Jou beeld van Christus sal bepaal hoe jy jou dissipelskap op aarde uitleef.
Vir my is Christus die Seun van God wat as Verlosser en Redder na ons toe gestuur is om ons vry te maak van die wet wat ons in elk geval nie met ons beste pogings kan onderhou nie. Ons word nou deur geloof in Christus en deur genade gered. Hy het die dood oorwin en ons van slawerny van sonde vrygekoop.
Christus Jesus is ook as lewende voorbeeld vir ons gestuur sodat ons kan weet hoe ons as kinders van God moet leef. Sy voorbeeld is deurgaans dié van ’n sagte, liefdevolle, nederige en genadige dienaar. Tog het Hy nooit kompromieë aangegaan nie, net met die duiwel of
die slim wetgeleerdes nie.
Jesus was ’n rebel wat die godsdiensleiers aangevat het oor hulle oppervlakkige godsdienstigheid aan die buitekant wat nie van innerlike reinheid getuig het nie. Hy was ook Leermeester, Sieketrooster, Raadsman en Vredevors. Hy was ’n mens-mens – lief vir kinders en nooit hooghartig of hoogheilig nie. Almal was welkom by Hom – selfs kunssinnige buiteperde soos ek.
Sy liefdesdade was nooit om ander te beïndruk nie. Jesus was iemand met diep en opregte deernis met ander se emosies. Hy kon saam huil en saam lag en na alle mense luister. Hy het belang gestel om dieper te connect met mense en Hy het by mense uit verskillende klasse aangesit vir ete. Wat ’n voorbeeld om na te volg!
Bruisgebed vir dissipels: Here Jesus, dankie vir die voorbeeld wat U kom stel het. Ek streef daarna om al u eienskappe hier op aarde uit te leef. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
