En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”.
– Galasiërs 4:6 (lees gerus ook 1 Kor 12:1-11 om meer oor die Gees se werking in jou te ontdek)
Is jy bewus van die Heilige Gees in jou? Beleef jy sy werk persoonlik in jou hart? Wonderbaarlike vernuwing vind plaas wanneer hierdie Gees van waarheid jou aanraak.
Ons is nie as weeskinders agtergelaat toe Jesus ná sy dood en opstanding opgevaar het na die hemel nie. Hy het ons nie aan ons eie lot oorgelaat om self voort te sukkel nie. Elke gelowige het toegang tot die Heilige Gees wat vir ons intree, wat ons vertroos en wat ons versterk.
Ek was jare lank nie bewus van die werking van die Heilige Gees nie en het maar so met hit and miss probeer om by die voorskrifte in die Bybel te bly. My gebede het kunsmatig gevoel – asof ek teen die plafon vasbid en nie regtig met die Here connect nie.
Namate my verhouding met Hom verdiep het, het ek egter bewus geraak van ’n nuwe innerlike werking in my. Dit het my hart aangeraak om te vernuwe. Die Gees van die Here spreek gereeld my gewete aan, pols my om na mense uit te reik met deernis, en vul my hart met ongekende liefde en genade – asook gehoorsaamheid.
Die Heilige Gees se werking in my het my dooie godsdiens in ʼn lewende verhouding met die lewende God verander. Die Gees van God kan die hardste harte radikaal verander. Dink maar aan Paulus. Wanneer die Gees oor jou heers, is daar ’n nuwe en blywende band tussen jou en God. ’n Stemmetjie in jou wat gedurig na Hom uitroep vir leiding: “Abba Vader!”
Bruisgebed vir die Gees se werking: Ek roep gedurig uit: Abba Vader! Stuur u Gees om in my te werk.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
