Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker. Spits jou daarop toe om reg voor God te lewe . . . Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie.
– 2 Timoteus 2:22-23
Ek het twee groot asdromme in my kombuis, en ’n kleiner een in elke slaapkamer en badkamer. Daar is elke dag dinge wat ek moet weggooi, dinge wat nie meer bruikbaar is nie en net die huis vuil maak en omkrap. Sonder ’n asdrom, sou my huis soos ’n varkhok gelyk het.
Maandagoggende sit ek die groot munisipale swart asdrom buite, propvol swart sakke met al die vullis uit die kleiner dromme buite op die sypaadjie neer. Dit is altyd wonderlik om later die dag, wanneer die vulliswa die straat se asdromme leeggemaak het, ’n skoon asdrom deur my hek terug te stoot. Dit voel soos ’n nuwe skoon begin.
Net so het ons ook ’n geestelike asdrom nodig – eintlik sommer ’n hele paar kleintjies en grotes vir elke faset van ons lewe. Om ʼn volgeling van Jesus te wees vra dat ons ons elke dag opnuut sal bekeer – en elke dag ons sondes sal weggooi.
Die Skrifgedeelte hierbo waarsku ons teen sondes waarvan ons moet vlug: Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker. Spits jou toe op enigiets wat jou die regte dinge laat doen. Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak
nie.
Baie van ons het die neiging om skelmpies vas te klou aan ons gunsteling-sondetjies – ek ook. As ons nie gereeld ons geestelike asdromme by die Here leegmaak nie, kan ons innerlike mens, nes ons huise, in ’n varkhok ontaard.
Bruisgebed vir skoonmaak: Here, help my om weg te vlug van sonde en gereeld my geestelike asdrom aan U oor te gee om dit skoon te maak. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.