Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?” Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog
naderkom, gaan iemand anders voor my in.” Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop.” Onmiddellik het die man gesond geword.
– Johannes 5:6-9
Lê jy langs die spreekwoordelike bad van Betesda en wag vir ’n wonder werk in jou lewe? Is jy al jare lank moedeloos? Het jy ’n rits redes en verskonings hoekom jy nie beter word nie? Hoop jy iemand gaan verbykom en jou optel en in die genesende bad gaan sit?
Let op Jesus se vraag aan die siek man wat al so lank daar gelê en wag het: “Wil jy gesond word?”
Die siek man antwoord Jesus nie direk nie, maar noem ’n reeks hindernisse op wat keer dat hy gesond kan word. Jesus reageer nie op die siek man se skimp en tel hom op en dra hom na die bad toe nie. Inteendeel! Jesus vra geloof in aksie van die man. Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou slaapmatjie op en loop.” Onmiddellik het die man gesond geword.
Soms doen ons dieselfde. Ons staar na die onmoontlike, eerder as na al die moontlikhede. Die grootste wonderwerke in my lewe het gebeur toe ek my geloof in dade begin omsit het, en nie net verlam langs die bad bly lê en wag het vir iemand om verby te kom nie.
Bruisgebed vir verlamdes: Here, help my om my geloof in dade om te sit soos U van my vra. Dankie dat U die goeie uitkoms waarborg, tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
