’n Kwaadwillige mens bring net teenspoed; wat hy sê, is soos ’n verterende vuur – Spreuke 16:27.
In Markus Zusak se boek The book thief is daar ’n toneel waar die Nazi’s ’n groot stapel boeke op die stadsplein van ’n dorp verbrand. Die reusevlamme vernietig boeke vol wysheid, inspirasie en skoonheid. Die dorpenaars staan stom en toekyk hoe ’n kosbare kultuurskat uitgewis word. Terwyl almal terugkeer na hul donker huise bly die hoofkarakter, die jong Liesel Meminger, verdwaas agter. Sy grawe tussen die as totdat sy boeke vind wat nog leesbaar is.
Salomo vergelyk ’n kwaadwillige mens se woorde met ’n verterende vuur. Dit vernietig voor die voet: verhoudings, die mooi tussen mense, vertroue, die geloof in môre. Woorde kan nie ongedaan gemaak word nie.
In ’n dorp, gemeenskap, werkkring of selfs in die klein sirkel van ’n familie word daar maklik agteraf van iemand gepraat. Die een wat so bespreek word, het geen verweer nie. Goedgelowige, oningeligte toehoorders begin hoorsê-stories as feite aanvaar. ’n Sappige storie sorg immers vir interessante luisterstof. Soms kan één negatiewe aanmerking iemand vernietig.
Geen wonder die Bybel is so uitgesproke oor kwaadpraat nie. In 1 Korintiërs 6:10 word kwaadpraters in een asem met ander hardnekkige sondaars genoem wat nie God se koninkryk sal beërwe nie.
Hoe kan ons seker maak dat ons woorde nie ’n verterende vuur is nie? Ons antwoord lê in die woorde van Salomo in Spreuke 4:23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Ons hart bepaal ook die woorde wat by ons mond uitgaan.
Here, hou my gedagtes suiwer en bewaar my mond van vernietigende woorde. Amen.