Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jes 30:15).
Hoe sieldodend en selfs gevaarlik ʼn onnadenkende lewe kan wees – een waarin jy outomaties en sonder bewussyn van die onmiddellike hede en sy eise voortgedryf word – word duidelik geïllustreer deur ʼn tragiese vliegongeluk enkele jare gelede.
Dié wat in sulke sake belangstel, sal onthou hoe ʼn Franse vlug eendag geheimsinnig verdwyn het en eers ná twee jaar op die bodem van die see gevind is. Die ondersoek het ʼn tragiese, maar fassinerende storie onthul.
Die vliegtuig het vir enkele ure sonder enige probleme met behulp van sy stuuroutomaat gevlieg. Onverwags het hulle egter slegte weer getref en die turbulensie het hierdie apparaat laat ontkoppel. Steeds was dit geen krisis nie, totdat die alarm skielik afgegaan het om almal te waarsku dat die vliegtuig se motore op die punt was om te stol. Dit het dan ook enkele oomblikke later gebeur. Die vliegtuig het plotseling soos ʼn klip seewaarts begin val.
Die tragiese van hierdie vliegongeluk is dat die twee loodse die situasie en wat hulle moes doen nie goed gelees het nie. Hulle was gewoon nie bewus en teenwoordig genoeg nie. Gewoond daaraan dat die vliegtuig outomaties vlieg en hulle maar net passief kan toekyk, was hulle skielik onvoorbereid, verward en hulpeloos. Trouens, hulle eerste, ewe outomatiese, reaksie was om die neus van die vliegtuig te probeer lig – ʼn aksie wat in daardie stadium rampspoedig was en die probleem vererger eerder as verlig het.
Later het dit geblyk dat al wat nodig was, was om – amper teen alle logika in – die vliegtuig se neus af te dwing, neer te duik en dan met die groter spoed die motore weer aan die gang te kry. Toe dié bewussyn hulle uiteindelik tref, was dit egter te laat. Die vliegtuig het in die see gestort.
Wat hier gebeur het, is ʼn goeie beeld van wat kan gebeur as ons nie bewus of teenwoordig genoeg in die hede leef nie. Ons kan by wyse van spreke in storms beland en, soos hierdie loodse, ontdek: Ons weet nou nie hoe om op te tree nie. Of ons het nooit die vaardighede of dissiplines ontwikkel om ons in die situasie te help en daardeur te neem nie.
Enige raad? Miskien bly Jesaja se woorde ná eeue steeds relevant: Ons krag en hoop is uiteindelik in niks anders geleë nie as om stil te wees en te vertrou. Ten minste begin dit daar. Wat prakties beteken ons sal kalm raak, bewustelik na die hede draai en die uitdagings en geleenthede wat op ons wag moedig aanpak.
O Here, gee ons vandag weer u kalmte en stilte sodat ons kan weet wat om te doen. Amen.