Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! U laat die mens sterwe: U sê net: “Word weer stof!” Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag – Psalm 90:1-4.
Psalm 90 se opskrif lui: “Van ewigheid tot ewigheid is U God.” In hierdie psalm stel Moses in sy gebed die mens se kortstondigheid teenoor God se ewigheid. Inderdaad, ons lewe is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.
Die Predikerdigter worstel met vrae oor tyd en die sin van die lewe, die noodlot, wie ons lewe beheer en waarheen alles lei. Soos Moses, ervaar hy dat ons lewe vol swaarkry is en vinnig verbyvlieg. Sy groot vraag is: Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?
Ons wil saam met hom uitroep: Is my tyd en geswoeg op aarde dan nie tevergeefs nie?
Onlangs lees ek: “Ons kan nie aan tyd sin gee sonder om met God, wat bo tyd verhewe is, rekening te hou nie. Hy het tyd geskep, maar is nie daaraan onderwerp nie. God maak die sin van tyd en ewigheid aan ons bekend deur sy Seun, Jesus Christus, wat mens word.”
Jesus het doelbewus sy vasgestelde aardse tyd gebruik vir dít waarvoor Hy mens geword het. Daarom kan ons wat in Hom glo, wéét dat noodlot nie ons tye bepaal nie, maar wel God. In Jesus Christus word ons deel van God se tyd.
Here Jesus, dankie dat U in beheer van my tyd is. Amen.