En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak. Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord, huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”
– Markus 7:20
’n Besem is een van die eenvoudigste, oudste en doeltreffendste stukke gereedskap om jou omgewing mee skoon te maak. Ek dink nie een van ons is ooit sonder ’n besem in ons huis nie. Ek gryp gereeld my besem en vee die huis skoon van hoek tot kant, raak ontslae van al die stof en sand wat ingetrap word en die vloer vuil maak.
Net so behoort ons elkeen wat in geestelike volwassenheid wil groei en ons geloof wil verdiep ’n geestelike besem aan te skaf. Hierdie besem is nie bedoel om ander mense soos jou man of skoonma se sondes weg te vee (of hulle oor die kop mee te slaan) nie, maar juis
om jou eie lewe skoon te maak.
Wanneer laas het jy inspeksie van jou gedagtewêreld gehou? Gewoonlik is ons traag om ons geestelike besem te gebruik om die onsuiwerhede uit ons eie lewe weg te vee. Ons mislei onsself as ons glo ons is al só ver op ons geloofspad gevorder dat ons nie gereeld ʼn spring cleaning nodig het nie.
Dawid was ’n man na God se hart. Nie omdat hy sonder sondes was nie, maar juis omdat hy geweet het álle mense doen sonde en nooit geskroom het om gereeld sy geestelike besem op te tel en sy hart skoon te vee sodat God hom kan ondersoek nie.
Is jy bereid om dieselfde te doen?
Bruisgebed vir ’n skoon hart: Here, help my om my hart en gedagtes te ondersoek en die sonde uit my lewe weg te vee. Gee vir my ’n rein hart, Here.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
