Boodskap vir Vandag

Search

Bid en droom

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! – Psalm 139:23-24.

Ons het baie drome vir ons kinders. Soms raak ons meegevoer wanneer ons sekere talente en gawes in hulle ontdek. Ons is so opgewonde oor die moontlikhede wat in hulle opgesluit lê. Dan verloor ons maklik perspektief. Ons jaag die droom na en doen enigiets om die sluimerende pianis, sportster, akademikus of skilder te help om daardie ideaal te verwesenlik.

Wanneer ons so angstig raak oor ’n spesifieke droom vir ons kinders, raak ons soms stiksienig. Dan moet ons eers terugstaan en diep asemhaal sodat ons kan hoor wat God oor hierdie droom sê. Ons moet bid: “Here, waar pas my droom in ú prentjie vir my kind?” My drome en gebede moet verweef wees. Ek moet déúr my drome bid terwyl ek my hart ondersoek. Soms is my gebede selfgerig en soek ek antwoorde wat mý pas. Dan moet ek God se Woord biddend lees en met ’n oop, opregte hart wag dat Hy dit vir my oopbreek.

Psalm 139 is nie slegs vir jongmense bedoel nie. Dit moet ook my as ouer se pleitroep wees: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, lei my op die beproefde pad!”

Ouers se groot droom moet wees om ewigheidskinders groot te maak. Daarvoor moet ons drome en gebede vir ons kinders in ooreenstemming wees met dít wat God vir hulle begeer.

Here, ek wil bid en droom vir my kinders. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed