Boodskap vir Vandag

Search

Bloedrooi

“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg.”

– Matteus 5:44

 

Ek kom uit ’n humeurige huis en het grootgeword by ouers wat dikwels voor ons as kinders baklei het – met woorde én fisies. En kinders het die manier om hulle ouers na te boots …

 

Boonop is ek gebore met rooi pigment in my hare. Rooikoppe is gewoonlik vurig, sê die slimmes. Verder is die oorsprong van die eerste Coetzers die vurige Hongarye in Oos-Europa, wys die navorsing. Die eerste Coetzer was ’n koetsier wat perde aangedryf het –

seker met ’n sweep.

 

Ek was ’n stil en voorbeeldige kind – een wat nie te vinnig kwaad geword het nie. Tog was daar altyd ’n latente en gevaarlike vulkaan binne-in my. Wanneer mense my grense te veel getoets en my te ver gedruk het, kon ek onverwags soos ’n vuurspuwende berg ná baie

lang stilte uitbars.

 

Ek het hierdie woedeuitbarstings lank geregverdig en was nie eens skaam daaroor nie – totdat ek ’n dieper verhouding met die Here gesluit het. By Hom het ek geleer dat die sagte bloedrooi kleur van genade en liefde vir Hom baie mooier is as die rooi kleur van woede.

 

Hoe lyk jou hart se rooi? Is dit oorwegend bloediglik rooi van woede oor wat ander mense doen of sê? Begin dan bid vir jou hart – én vir die mense en dinge wat jou so woedend kwaad maak.

 

Om te groei in genade en te krimp in woede moes ek leer om vir my vyande te bid. Dit is ’n moeilike taak. Aanvanklik kon ek net brom wanneer ek vir hulle probeer bid het. Maar ek het deurgedruk en gevind: Hierdie gebede help dalk nie om jou vyande se harte te

verander nie, maar dit sal wel jou eie hart versag.

 

Bruisgebed vir genade: Vader, help my om my gebrom te verander in sagte gebede vir mense en dinge wat my kwaad maak sodat ék die een kan wees wat verander. Tot eer van u Naam.

 

Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed