Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
– Galasiërs 5: 14-15
Die meeste mense hou Bostik in hulle huise aan. Dis daardie wonderlike gom wat feitlik enigiets wat stukkend is weer kan regmaak. Met ’n goeie skoot Bostik kleef al daardie los stukkies gou weer styf aan mekaar vas. Daarom sorg ek dat daar altyd ’n buisie Bostik in my
gereedskaplaai is. Ek weet nooit wanneer iets gaan breek nie.
Ons het ook geestelike Bostik wat die meeste stukkende situasies en gebroke mense weer heel kan maak. Hierdie geestelike Bostik wat ons kan gebruik, is naasteliefde. Vandag se Bybelvers sê duidelik: Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Hoe lyk jou hart se gereedskapskas? Het jy genoeg voorraad naasteliefde om aan te wend om mense wat verdeeld of stukkend is weer vas te gom tot ’n vredevolle eenheid in Christus?
So dikwels ruk gelowiges eerder die gevaarlike spykers, hamers, sae, bore en knyptange uit hulle hart se toolbox wanneer hulle geskille probeer oplos. Dit is nie die soort gereedskap wat die Here vir sy kinders aanbeveel nie. Wanneer ons sulke tools gebruik, raak die
verdeeldheid van sy volk al hoe erger.
Die Here waarsku ons teen venynige en aggressiewe optrede onder medegelowiges. Met hierdie gevaarlike ingesteldheid sal ons mekaar byt, verskeur en later heeltemal verslind.
Bevind jy jou nou in ’n konfliksituasie? Bostik it! Haat verdeel; naasteliefde maak heel.
Bruisgebed vir konflik: Here, help my om u liefde in my hart om te skakel in naasteliefde sodat ek stukkende situasies en gebroke mense kan help herstel. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
