Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe (Johannes 6:58).
Die geheim van sin en betekenis in ons lewe word in die Bybel nie net gekoppel aan die bestaan van ‘n God wat sorg nie.
Volgens die Bybel word hierdie sorg boonop sigbaar en duidelik in die lewe, werke en woorde van ‘n eenvoudige timmerman, Jesus van Nasaret. In Hom, so getuig die Bybelskrywers, sien ons die hart van God. Sien ons hoe wyd en diep God se sorgende liefde vir mense strek.
Dit is omdat Jesus dít geweet het dat Hy na homself as die lewende brood kon verwys. Met dié uitspraak – wat ook ons teks vir die week is – erken Jesus allereers die diep honger en dors na sin en betekenis, ja, na egte lewe wat in ons almal skuil.
Maar daarmee kom Hy ook vandag weer na elkeen van ons om hierdie behoefte te vervul. Luister net weer: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe” (Joh 6:51).
Al wat ons te doen staan, is om eenvoudig van hierdie brood te begin eet. Wat prakties beteken: om met vertroue en deur gebed na Hom toe te draai, méér oor Hom te leer. En toe te laat dat Hy deur sy Gees in ons begin woon en werk.
Daar is niks wat die God van Jesus vandag méér begeer nie. Dít is waarna Gód ook smag.
Here, ek kom vandag na U toe met my honger en my dors – U wat die brood is wat lewe gee. Voed my, vul my, bewoon my, sodat ek die nuwe lewe wat U gee vandag opnuut kan ervaar. Amen
Carel Anthonissen