Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring? Wie kan sy lof ten volle verkondig? – Psalm 106:2.
God is die brugbouer tussen ons verlede en ons toekoms. Wanneer ons terugdink aan alles wat God in die verlede vir ons gedoen het, versterk dit ons geloof in die toekoms.
Ons wéét dat die God wat gister daar was, vandag en môre steeds daar sal wees. Hy is nie ’n onbetrokke God op ’n afstand of ’n veraf ongenaakbare toeskouer nie, maar ’n God wat aktief deel van ons lewe wil wees.
Elke keer as ek toegee aan vrees, adverteer ek my wantroue in God se sorg. Elke keer dat ek angstig terugdeins en verstar, verklaar ek eintlik dat God onbetroubaar is.
Wanneer ek egter in dankbaarheid op my lewenspad terugkyk en aan die Groot Brugbouer erkenning gee vir al die sterk brûe waaroor ek veilig kon reis, word my lewe ’n getuienis van my geloofsvertroue in Hom.
Daarom mag ons as ouers en gelowiges nie stilbly nie. Ons moet van al God se klein en groot wonderdade in ons lewe vertel. Ons verlede moet ’n skatkamer wees waaruit ons kan put en waarmee ons medereisigers kan bemoedig en hul geloof in God help vestig.
Here, dankie dat U die brugbouer is. My verlede is die getuienis van al die kere dat ek veilig by rusplekke langs die pad aangekom het. Hier is ek nou. Ek sê dankie vir hierdie oomblik, en ek laat my toekoms veilig in u hande. Amen.