Broers en susters, wanneer iemand in die een of ander sonde verval, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie. Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.
– Galasiërs 6:1
Die meeste van ons het Dettol in die huis. Dis die een huishoudelike ontsmettingsmiddel wat feitlik almal gebruik om wonde skoon te maak, teen infeksies te beskerm en om die wond te help genees.
Ons almal het die potensiaal om genesende Dettol vir mekaar te wees. Soms is jou Dettol-opdrag om iemand liefdevol en in nederigheid op onsuiwerhede in hulle gedrag te wys voordat dit ontaard in gevaarlike en sondige infeksies wat deur die hele liggaam en gees versprei.
Is jy bereid om hierdie Dettol-taak uit te voer wanneer die Gees dit op jou hart lê? Of hou jy nie daarvan om medegelowiges (veral jou vriende) aanspreeklik te hou vir hulle verkeerde gedrag soos ʼn affair, bedrog of leuens nie? Deur hulle liefdevol reg te help kan jy jou vriende dalk teen verdere sondes en baie seerkry beskerm.
’n Ander Dettol-opdrag is om mense op jou pad wat swaarkry te help. Daar is soveel maniere om mense in nood te help. Jy kan hulle wonde ontsmet en verbind met diepwerkende Dettol-medelye. Of jy kan hulle wonde help genees met diepstrelende Dettol-liefde.
Ons hoef gewoonlik nie ver te soek of te reis om mense in nood te vind nie. Daar is mense in jou binnekring wat op hierdie oomblik jou Dettol-aanraking nodig het. Reik uit na hulle en help hulle deur Jesus se liefdesopdrag uit te leef.
Bruisgebed vir alle Jesus-volgelinge: Here, help my om u genesende Dettol in ander mense se lewe te wees. Help my om heling en versorging en beskerming uit te deel, waar ek ook al kom. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.