’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud – Spreuke 22:1.
’n Goeie naam is só waardevol dat dit in sekere lande deur die wet beskerm word, byvoorbeeld in gevalle waar jou naam in die media of in die openbaar belaster word.
Daar is verskeie spreekwoorde wat die belangrikheid van ’n goeie naam beklemtoon. ’n Skoolhoof sal ’n sportspan voor ’n sporttoer aanmoedig: “Hou ons skool se naam hoog,” of: “Moenie ons naam deur die modder sleep nie.”
In die verlede het ouer mense dikwels gesê: “Jou goeie naam gaan jou vooruit,” wanneer ’n jongmens die eerste keer uit die huis gaan om te studeer of werk.
’n Goeie naam leef voort lank nadat die eienaar daarvan nie meer daar is nie. Prediker 7:1 stel dit só: “’n Goeie naam is beter as reukolie, die sterfdag beter as die geboortedag.”
Die Belgiese priester-digter Anton van Wilderode skryf in ’n gedig ná die dood van ’n goeie vriend: “Jy is verby, maar bly met soveel spore in ons hart voortleef. Alles wat elkeen van ons van jou ontvang het, bly onvernietigbaar in ons besit.”
Ons moet nie slegs ons eie naam soos goud bewaar nie, maar ook sorg dat ons nie iemand anders se goeie naam skade laat ly deur ’n agteraf storie, negatiewe aanmerking of ’n gerug wat ons versprei nie.
Net so waardevol as wat ons eie naam vir ons is, is die naam van elke ander mens.
’n Naam is kosbaarder as silwer of reukolie.
Here, help my om so te lewe dat my goeie naam nie deur my woorde of dade besoedel word nie. Amen.