Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig – Johannes 15:26 (1933/1953-vertaling).
Johannes noem die Heilige Gees die Parakletos wat met “Voorspraak” of “Trooster” vertaal word.
Om die Heilige Gees se troos te ervaar moet ’n treurende stil word en sy of haar vir die oorweldigende pyn oopstel. Dit is ’n voorreg om deur die Heilige Gees vertroos te word, want terwyl Hy troos, leer Hy. Hy bring insig waarna nie gesoek is nie en beantwoord onuitgesproke vrae wat die treurende diep weggebêre het en nie wou verwoord nie. Iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, vertel: “Ek sien myself voor die Here. Ek het niks om vir Hom te gee óf te sê nie. Ek sit net in stilte by Hom. En Hy vul my stiltes met sy genade. Hy laat my nie ’n kitskursus in treur doen nie. Maar ek ervaar dat dit goed is om net so te sit.
“Stadig maar seker begin ek iets van Matteus 5:4 se woorde verstaan: ‘Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.’ Terwyl ek in die teenwoordigheid van die Almagtige treur, vul Hy my met sy onuitspreeklike liefde en goedheid. En Hy troos my, soos niemand anders kan nie.”
Wanneer die Heilige Gees in die sentrum van ons droefheid staan, besef ons dat ons geseënd is omdat ons sý troos en sý vreugde leer ken – ten spyte van.
Here, net U kan waarlik troos. Amen.