Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog (Jakobus 4:10).
Dit is duidelik dat die dissipline van gebed vir Jakobus baie belangrik was.
Nie alleen omraam hy sy brief met die oproep tot gebed nie (Jak 1:5, 4:2, 5:13-18), maar hy is vas oortuig dat die regte manier van bid ons lewe en dié van die gemeente kan verander (Jak 5:16).
Só, waarin bestaan hierdie meer egte vorm van gebed waaroor hy dit het?
Allereers dat ons dit sal waag – ook as moderne, selfstandige mense – om voortdurend, elke dag, in nederige afhanklikheid, bewus van ons eie armoede, ellende en behoeftigheid, voor God te gaan buig (Jak 4:7-10).
Dan om in stilte, voordat óns begin praat, eenvoudig te luister. Sodat God deur sy Woord en die influisteringe van sy Gees met ons kan begin praat. Méér nog, ons met sy liefde kan bedien (Jak 4:6).
Want dít is waarvan die verhale, briewe en geskrifte van die Bybel ons oor en oor wil vertel. Daarom moet ons ons denke en planne biddend daarin drenk.
Waarskynlik is dít die hoogtepunt van gebed wanneer ons, amper soos die verlore seun, hierdie gawe ontvang. En dan eenvoudig met geduld en afwagting daarin begin rus (Jak 5:8). Sodat ons versterk kan word, nie net om ons eie laste met blymoedigheid te dra nie, maar ook die laste van ander – dit is die siekes, sondaars en gekneldes (Jak 5:15).
En dit kan ons doen deur onder andere ook vir hulle te bid en in te tree.
Uiteindelik, so skryf Jakobus, is dit waarop ware gebed uitloop (Jak 5:13-16).
Here, leer ons vandag om te rus in u liefde. Sodat ons ook met vrymoedigheid vir ander kan intree. Amen
Carel Anthonissen