Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink (Filippense 4:10).
Die Duitse outeur, Thomas Mann, het op ‘n stadium geskryf dat die bestemming van die mens in ons tyd grootliks in politieke terme beskryf kan word.
Sy skrywe weerspieël ‘n bekommernis dat die politieke prosesse en besluite van ons tyd die betekenis en stemming van ons lewe volledig kan bepaal.
En dit mag tog nie.
Want wie alleen in politieke terme na alles kyk, vergeet maklik die rykdom en veeldimensionaliteit van die lewe. Ook die belang van liefde en emosie, die betekenis van persoonlike verhoudinge. Of hoe maklik die lewe van die individu in die politieke magspeletjies geïgnoreer, verwaarloos en ondergeploeg kan word.
Aangrypend verwoord die digter Yeats hierdie dilemma wanneer hy, kort voor die oorlog, met heimwee besef hoe die politiek van sy tyd die opwinding van ‘n persoonlike verhouding laat vervaag en bloot tot ‘n verlange gereduseer het.
“How can I, that girl standing there, my attention fix on Roman or on Russian or on Spanish politics? Yet here’s a travelled man that knows what he talks about, and there’s a politician that has both read and thought, and maybe what they say is true of war and war’s alarms. But Oh, that I were young again and held her in my arms.”
Ja, ons mag nie toelaat nie dat ons lewe so deur politieke realiteite, deur wat politici en maghebbers alles aanvang of sê oorheers word, dat dit ons verhoudinge met ander, ons eie familie, vriend of vreemdeling bederf of skaad nie.
Want laasgenoemde bly ons bestemming as mense wat uit God se vrede leef.
O Here, U self het gedurig uitgereik na mense en nie mag of status gesoek nie. Help ons om dieselfde te doen en daarin ons bestemming te vind. Amen
Carel Anthonissen