Soos my Vader my liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly (Johannes 15:9).
In ‘n wonderlike mooi boekie, “No greater love”, herinner die leier van die beroemde Taizé-gemeenskap in Frankryk ons op ‘n aangrypende manier aan die liefde van God wat in die lewe van Christus sigbaar geword het.
Daar sien ons dat daar inderdaad geen groter liefde was as dit wat Christus teenoor mense bewys het nie.
Sy liefde was ‘n liefde sonder grense of voorwaardes – een waardeur mense telkens verras, oorstelp en onherroeplik verander is.
Die geheim van Christus, so skryf broer Roger, is boonop dat Hy ons eerste liefgehad het. Trouens, die diepste betekenis van ons lewe word daardeur bepaal dat ons mag weet, onmiskenbaar en sonder twyfel, ons is aanvaar, ons word bemin, selfs al voel ons niks, selfs al ervaar ons vandag niks daarvan nie.
Die wéte daarvan is genoeg. Dít moet ons dra. Dít moet ons die vertroue gee om ook ons lewe vandag weer in liefde aan Hom te wy. Om in sy liefde te bly.
En dit kan ons doen deur, om mee te begin, eenvoudig soos broer Roger te bid:
Christus, wanneer ons U soek, ontdek ons dat U ons nog altyd liefgehad het en dat ons dit nie geweet het nie.
Maar deur u Woord gee U ons vandag weer ‘n gevoel van hoe ons U mag liefhê, selfs te midde van ons mees intieme eensaamheid.
Gelukkig is hulle wat vandag van u afhanklik is. Gelukkig is hulle wat op U vertrou. U wat die bron is van ons stille vreugde.
Here, hoor ons wanneer ons vandag soos broer Roger tot U bid. Amen
Carel Anthonissen