Boodskap vir Vandag

Search

Dokter

Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel. Ek het gekom om sondaars te roep om tot inkeer te kom, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”

– Lukas 5:31-32

 

Wanneer ons liggaam siek is, skroom ons nie om dokter toe te gaan nie. Ons gaan vir x-strale, operasies en volg getrou die behandeling wat die dokter vir ons voorskryf.

 

Wanneer ons as gelowiges geestelik ongesond is, is ons egter geneig om presies die teenoorgestelde te doen. Ons ontken dat ons, soos baie ander sondaars, worstel met ons ou, sondige (en siek) natuur en neem ’n geestelik hooghartige posisie in. Ons sien neer op dié wat sukkel met hulle menslikheid.

 

In vandag se verse lees ons Jesus se antwoord aan die geestelik verhewe Fariseërs nadat hulle Hom by sy dissipels aangekla en Hom beskinder het omdat Hy saam met ongure karakters durf eet. “Ek het gekom om sondaars weg te roep van hulle sondes, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”

 

Waar plaas jy jouself as gelowige? Dink jy, soos die Fariseërs, jy weet reeds alles en het nie meer vir Jesus, die groot Dokter, elke dag in jou lewe nodig nie? Glo jy in jou hart jy is verhewe bo ander sondaars? Weier jy om jou tyd (en tafel) te deel met mense wat in die oë van die samelewing onaanvaarbaar is, of breek jy, soos Jesus, brood én die Brood van die lewe saam met almal?

 

Nie een van ons het al geestelik gearriveer nie. Nie een van ons is op ’n plek waar ons durf neerkyk op ander mense nie. Ons almal het die Dokter nodig – ek beslis!

 

Bruisgebed vir almal: Here Jesus, ek erken ek het nog nie geestelik gearriveer nie, en sal ook nooit op hierdie aarde nie. Ek het u hulp as die groot Dokter nodig.

 

Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

No data was found

Inspirasievennoot

Hoofmeisie met kanker: ‘Wonderwerke gebeur vandag nog’
7 Oktober 2026
Man oor sy buite-egtelike verhouding: Só lyk die spoor van leuens en verwoesting – toe God se genadige ingryping
6 Oktober 2026
‘Skryf is vir my soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak’ – LiG-rubriekskrywer vertel hoe gehoorsaamheid haar lewe verander het
5 Oktober 2026
Om luisteraars van God se genade bewus te maak– Nuwe Loof die Here-aanbieder deel sy program-resep
30 September 2026
Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed