Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie – Hebreërs 11:1 (1933/1953-vertaling).
Mense hoop. Ons hoop op voorspoed en vrede en minder misdaad. Matrikulante hoop op sukses. Hartseer mense op vreugde. Boere op goeie oeste. Ouers op ’n mooi toekoms vir hul kinders. Sportmanne op oorwinnings. Verliefdes dat hul verhouding sal uitwerk.
Hoop laat mense in die aangesig van die dood aan ’n brose sprietjie lewe vasklou. Hoop laat terminaal siekes aanhou veg. Hoop is ’n krag in ons lewe. As ons nie hoop nie, kan ons nie leef nie.
God se hartsbegeerte is dat dit met sy kinders goed gaan. Daarom kan ons in moeilike tye vas en seker weet Hy is besig met sy langtermynplan wat langtermynseën inhou.
’n Vrou wat reeds twee keer ’n eggenoot asook ’n dogter aan die dood moes afstaan, sê: “Ek kan aangaan omdat ek met ’n toekomsverwagting leef. Ek leef met die vaste wete dat ek God se kind is. Ek sit, staan en wandel in Christus. As ek sit, sit ek in Hom. As ek staan, staan ek in Hom. As ek wandel, wandel ek in Hom. My hoop is geleë in die wete dat Christus reeds die dood oorwin het en dat ons saam met Hom na ons ewige tuiste op pad is. As gelowige moet ek die ewige hoop wat in my voortlewe na ander aangee. Wanneer ’n mens met daardie hoop leef, kan niks jou vreugde en vrede blus nie!”
Here, dankie vir die hoopgewers rondom ons. Amen.