Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het” – Matteus 11:25.
Ons mag nooit aanvaar dat iemand sonder intellektuele kennis ook sonder wysheid is nie. Dikwels is dit juis die eenvoudiges wat oor diep insig en wysheid beskik.
Jesus Christus is dwarsdeur sy aardse lewe misken. Hy, die Seun van God, die bron van wysheid en goddelike kennis, is deur die sogenaamde intellektuele verag. Hul geestelike oë was toe. Hulle kon en wóú nie sien dat Hy – die nederige timmermanseun wat Jerusalem op die rug van ’n donkie binnery – God en Koning is nie. Want Hy het nie volgens die norme van daardie tyd aangetrek en opgetree nie. Hulle het Hom as minderwaardig en eenvoudig bestempel.
Ek wonder soms: Sou ek dalk dieselfde gedink het?
In die aftreeoord naby ons huis sien ek gereeld bejaardes in die tuin loop. Soms met iemand langs hulle. Dikwels alleen. Soms in selfgesprek, of dalk met God. Hulle lyk soms verwese, sonder waardigheid of lewensmoed. Dalk voel hulle eensaam, of oorweldig deur funksie-verlies en met die diep besef dat hul liggaam hulle in die steek laat.
Die uiterlike vertel maar min van ’n unieke lewe wat geleef is. Hulle is so gestroop van alles wat hulle was. Agter die onseker voetval of moeisame opkyk, skuil dalk ’n skerp intellek, uitsonderlike prestasies of ’n lewe van diens. En waarskynlik deurleefde wysheid.
Om ’n wyse persoon te kan eien moet ons self soekers na wysheid wees.
Here, laat asseblief die skille van my oë afval sodat ek kan sien. Amen.