Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie? . . . Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie?
– Romeine 2:21, 23
Sou jy sê jy is eerlik? Nie net met ander mense nie, maar ook met jouself. Is jy werklik eerlik genoeg om in voeling te wees met wie jy eerlik is?
Die meeste van ons het meer as een bril waardeur ons na die lewe kyk. Ons sit maklik ons kritiese bril met die vergrootglaslense op wanneer ons na ander mense kyk – veral na die mense van wie ons nie hou nie. Só kan ons hulle swakpunte opblaas.
Deur watter bril sou jy sê kyk jy na jou skoonma, jou werkgewer, jou huishulp, mense van ander rasse en kulture? Deur watter bril kyk jy na jou man en jou kinders? Deur watter bril kyk jy na jouself?
Dikwels dra ons ’n rooskleurige bril wanneer ons na onsself kyk. ’n Gedokterde bril wat ons foute verbloem en verhoed dat ons eerlik met onsself hoef te wees. So ’n bril lei egter daartoe dat ons onsself mislei oor wie ons werklik is.
Om te kan groei in eerlikheid en emosionele intelligensie, vra dat ons ons brillense sal skoonvee en deur helder glas na onsself en ander mense sal kyk. Vra die Here om sy lig van waarheid op jou te laat skyn. Kan jy sien dat jy (ook) krakies in jou karakter en persoonlikheid het? Kan jy sien dat die fout nie altyd net by ander mense lê nie?
Dié wat net deur getinte lense na hulleself kyk, sal nooit kan leer en groei nie. Maar wanneer jy eerlik na jouself kyk, sal jy geestelik kan groei.
Bruisgebed vir eerlikheid: Here, ek weet U vra eerlikheid van my. Leer my om deur dieselfde bril na myself en ander mense te kyk. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
