“Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie? Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige kos mag eet.)
– Markus 7:18
Wanneer mense tot bekering kom, word daar dikwels onmiddellik baie klem gelê op uiterlike dinge wat hulle in die toekoms behoort te vermy – dinge wat sonde is. In my jong dae het ek so ’n lys moets en moenies om as Christen te kan kwalifiseer so oorweldigend en
intimiderend gevind dat ek sommer dadelik wou tou opgooi.
Dans, popmusiek en tattoos was sonde. Lang hare vir mans en neusringe of kort rokkies vir meisies was taboe. Geen jongmens wat ek geken het, kon hierdie lys volhou nie.
In vandag se vers probeer Jesus – veral vir die Fariseërs wat gedurig op soek was na ’n kans om Hom oor beuselagtighede vas te vra – verduidelik dat sonde in die binnekant van die mens se hart ontstaan, in ons bose gedagtes, en nie kom van die kos wat ons van die buitekant af inneem of ons vuil hande nie.
In hierdie geval was die twispunt of hulle vark mag geëet het of nie. Jesus het alle kos as rein verklaar en beklemtoon dat onreinheid in die mens se binneste lê, nie in die kos wat hulle eet en wat weer by die liggaam uitgaan nie.
Ek glo namate ons in volwassenheid en heiligmaking toeneem in ons verhouding met die Here, sal sy Gees ons lei om sekere dinge in ons lewe af te leer en nuwe en beter gewoontes aan te leer.
Bruisgebed vir reinheid: Vader, help my om sensitief te wees vir wat in my hart en gedagtes aangaan. Laat ek heel eerste kyk of my hart en gedagtes rein is. Ek vra dat u Gees my sal help om nuwe gewoontes te vestig.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.