Die doel met beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan.
– 1 Petrus 1:7
Ek glo geloof is baie makliker vir ons in die somerseisoene wanneer die Here se hand van guns oral in ons lewe sigbaar is. Alles gaan voor die wind en voorspoedig met jou en jou geliefdes en jy getuig oral met groot lof van sy goedheid.
Die vraag is egter: Hoe lyk jou geloof in die minder gunstige seisoene? In die winters wanneer jy beproef word en dit voel of die Here jou verlaat het? Is jou geloof dan steeds net so sterk soos in die somer – of begin dit taan?
Ek het al so dikwels ervaar dat mense in opstand kom wanneer hulle beproef word, dat hulle met die Here baklei en hulle geloof by die venster wil uitgooi.
Ek glo God toets die egtheid van ons geloof in hierdie verlate en eensame woestynseisoene. Glo jy net in Hom wanneer Hy aflewer wat jy bestel? Of glo jy ook in die Here wanneer Hy sy hand van guns ʼn wyle van jou weerhou?
Vandag se vers is bemoedigend vir my as ek beproef word: Die doel met beproewing is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word. En onthou julle geloof is baie kosbaarder as goud.
As jy jou in jou woestynseisoene aan sy vuur onderwerp en bankvas in jou geloof bly staan, sal die egtheid van jou liefde vir die Here sigbaar wees vir almal, net soos suiwer goud.
Bruisgebed vir beproewings: Vader, help my om in tye wanneer ek beproef word bankvas te bly staan in my geloof in U en my vrywillig aan u suiweringsproses te onderwerp.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.