Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel – Filippense 2:4-5 (Die Boodskap).
Ons lewe in ’n samelewing waar die klem op die individu val. Mense jaag hul eie geluk na en dink slegs aan hul eie belange. In die proses vertrap hulle ander sonder meer. Vir hulle maak dit nie saak nie. Solank hul eie drome bewaarheid word en niemand hul spoed breek op pad na die verwesenliking van eie ideale nie. Alles roep uit: Ek!
’n Bekende Afrikagesegde lui: As jy vinnig wil loop, loop dan alleen. As jy ver wil loop, loop saam met mense.
Elke mens se belange is met dié van sy medemens vervleg. Wanneer jy jou eie belange ten koste van dié van ander probeer bevorder, is jy soos ’n kankersel wat aanhou groei en vermeerder. Die kanker vernietig gesonde selle en saai verwoesting; nie net in ander lewens nie, maar ook in jou eie.
Paulus vermaan die Filippense dat elkeen nie nét na sy eie belange sal omsien nie, maar ook na dié van ander. Dit is alleen moontlik as ’n mens verstaan dat ons op mekaar aangewese is en eers waarlik gelukkig kan wees wanneer ons vir mekaar sorg.
Die paradoks is dat ’n mens se belange die beste gedien word wanneer jy dit op die agtergrond skuif om na ander se belange om te sien.
Here, leer my om nie vol eiebelang te wees nie. Amen.