Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
– Romeine 12:1
Wanneer ek sponskoek bak, sê die resep ek moet die eierwit en die eiergeel van mekaar skei. Ek moet die eierwit en eiergeel in aparte bakke klits en dan albei afsonderlik in dieselfde mengbak byvoeg. Ek wonder altyd hoekom. Op die ou end is die hele eier tog deel van die eindproduk – die gebakte sponskoek.
Hierdie skeiding van die eiers laat my dink hoe ons ons lewe dikwels skei. Ons wys die wit deel van onsself in geestelike kringe en die ryker geel deel by ons meer liberale partytjievriende. Die gevolg is dat daar ’n gaping ontstaan in ons eie(r)-identiteit.
Ek dink die grootste rede hiervoor is dat gelowiges mekaar se andersheid so vinnig kritiseer en mense wat nie presies soos hulle is nie, maklik verwerp. Deur ons wit en geel dele apart voor te sit, in plaas daarvan om by almal dieselfde roereier te wees, hoop ons om aanvaar te word en op minder tone te trap.
As skrywer het ek die deursneemark en die geestelike mark van mekaar begin skei omdat erg konserwatiewe lesers soms nie insig het in die weerspieëling van lewensvatbare karakters wat uit wit én geel bestaan nie. Lesers kan nou kies of hulle net die geestelike eierwit wil opskep en of hulle scrambled eggs wil geniet – met die wit en die geel gemeng vir die deursneemark.
Vandag se vers vra dat ons onsself sal gee – nie ’n gedeelte van onsself nie, maar ons héle self – as ’n offer wat vir die Here aanneemlik is. Die Here sien die hele mens. Hy weet wat binne-in ons dop aangaan. Ons is almal roereier.
Bruisgebed vir integrasie: Vader, U weet wat binne-in my dop aangaan. Help my om dieselfde roereier voor U en voor mense te wees.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.