Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons – Kolossense 4:2-3a.
Wanneer ek vir iemand bid, kyk ek ’n paar oomblikke weg van my eie dinge. Ek maak tyd vir ’n ander mens en dra hom of haar aan God op. God hoor my smeking. Én die gebed weerklink in my eie hart. In gebed raak ons weer op mekaar ingestel.
My selfoon lui. Dit is een van my kinders:
“Hallo, Mamma. Sal Mamma asseblief vir my bid? My werksonderhoud is vanmiddag.”
“Natuurlik sal ek. Graag.”
Maar toe vergeet ek. Laataand kry ek ’n stemboodskap: “Dankie dat Mamma vir my gebid het. Dit het goed gegaan met die onderhoud.”
God was getrou. Ondanks my vergeetagtigheid het Hy gesorg. Dit neem egter niks daaraan weg dat ek nagelaat het om te bid nie. Wanneer ek belowe om te bid, vertrou my kind my. Dit gee hom die gerusstelling dat iemand hom hoog genoeg ag om spesiaal vir hom by ons hemelse Vader in te tree.
Vir my kinders is my gebede ’n bevestiging dat God my vriend is en dat ek met Hom oor hulle kan gesels en Hom van hul behoeftes vertel. Gebed is een van my grootste geskenke aan hulle. Daarom mag ek dit nooit verwaarloos of blatant vergeet nie.
Kort ná sy vrou, Emma, se dood skryf Andrew Murray sr in ’n brief aan hul kinders: “Perhaps while we are praying for the others, our hearts will forget their own troubles, and while we are trusting for each other, learn all the better to trust ourselves entirely to our loving Father.”
Vader, maak my getrou wanneer ek belowe om te bid. Amen.