Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! – 1 Kronieke 16:34.
Adam en Eva se sonde was ondankbaarheid – oor die volmaakte skepping, die paradysvreugde, die paradysvrede. Hulle wou meer hê. Hul sonde was nié-eucharisteo. Nié-dankbaarheid. Dit is ook óns sonde. Onvergenoegdheid. Die verwerping en minagting van God én ander se goeie gawes aan ons.
Ons groen dankbaarheidsliggie flikker nie.
Dikwels leef ons asof ander iets aan ons verskuldig is. Ons aanvaar goedheid en geskenkies as vanselfsprekend. Mense vra vinnig en sonder skroom hulp, maar bedank nie agterna die goeie gewer nie. Ons hoef nie groot dinge te doen nie, soms is ’n opregte “dankie” genoeg. ’n Sendingdokter het eenkeer ’n operasie op ’n sterwende seuntjie gedoen nadat sy ma kilometers ver met hom op haar rug na die hospitaal gestap het. Hy het die operasie oorleef. ’n Paar weke later kom dieselfde vrou by die hospitaal aan – op haar rug haar gesonde seuntjie en in haar arms ’n kroes hoendertjie. Sy het net kom dankie sê.
Om in dankbaarheid te lewe het ’n direkte uitwerking op ons doen en late. Dit hou ons nederig. Ons besef dat dít wat ons het, genoeg is – eintlik te veel.
Ons is deesdae selfversorgend. Ons kan self regkom. Of so dink ons. Wanneer ons aan tafel bid: “Dankie vir die kos wat ons uit u hand ontvang het,” bedoel ons dit dalk nie eens regtig nie. Want ons het self die kos verdien en gekoop.
Ons kinders beleef nie dat ons van God afhanklik en dankbaar is vir elke klein gawe nie.
Here, ons sê te min met ons hart dankie. Amen.