“Hy [God] sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm . . . Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.”
– Lukas 4:10-11
Hierdie woorde laat my so geliefd voel. Om te dink God se engele pas ons soos goud op. Dit is ’n lieflike en bemoedigende prentjie in my hart.
Juis daarom bid ek elke aand spesifiek vir engele – dat die Here sy engele van lig en beskerming sal uitstuur om ’n laer rondom my huis en rondom my en al my geliefdes te trek. Ook wanneer ek reis, bid ek dat Hy sy engele opdrag sal gee om my te vergesel.
Ek sien hierdie bronne van lig en goedheid in my geestesoog wanneer ek bid. Ek ervaar hoe die engele in die onsigbare wêreld om my saamtrek, my lei en my beskerm – en dit gee aan my gemoedsrus wanneer ek onrustig is.
Ons as mense kan egter ook engele vir mekaar hier op aarde wees. Daar is elke dag ’n geleentheid of twee op jou lewenspad om vir iemand anders ’n bron van lig te wees. Dit kan ’n vreemdeling wees of iemand wat jy ken. Party mense verkies om naamlose engele te
wees – om agter die skerms goed te doen, waar net die Here dit sien. Dit is ’n pragtige eienskap.
Vra die Here om jou hart sag en ontvanklik te maak sodat Hy jou as ’n engel kan gebruik om ’n verskil te maak in hierdie gebroke wêreld met soveel mense wat swaarkry. Begin sommer vandag met klein dade vol liefde aan ander.
Bruisgebed vir aardse engele: Hemelse Vader, leer my om meer sensitief te wees vir u stem en elke dag te kyk of daar ’n geleentheid iewers is om ’n naamlose engel op iemand se pad te wees. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.