Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby – Jesaja 60:20.
Die naam “silwer” is afkomstig van die Sanskritwoord Argenta. Dit beteken “lig”. God se woorde is suiwer, soos silwer wat oor en oor gelouter is. Elke belofte wat Hy maak, sal Hy nakom, want daar is nie ’n greintjie onsuiwerheid in dít wat Hy sê nie.
Psalm 12:7 sluit hierby aan: “Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ’n oond gesuiwer is.” Daarom kan ons selfs in ons donkerste tye aan sy woorde vasklou. God se woorde bring lig in ons donkerte. Want Hyself is Lig.
Die lieflike koorwerk “Lux Aeterna” beteken: Ewige Lig. Die openingswoorde lui: Lux aeterna luceat eis, Domine (“Mag Ewige Lig hulle bestraal, o Here …”). Die lied eindig met die aangrypende woorde: Quia pius es (“Want U is goed”).
In teenstelling met die lieflike lig van silwer wat van binne af uitstraal, verwys Paulus in 1 Korintiërs 13 na ’n stuk klinkende metaal en ’n galmende simbaal. Hierdie instrumente het ’n dowwe voorkoms. Hul klank is kras en dikwels oorverdowend. Daarteenoor is die helder fyn klank van ’n silwer fluit strelend en troostend op die oor.
God se woorde is Lig. Hý is Lig. Lux Aeterna. Ewige Lig!
Here, dankie dat u woorde vir ons lig maak op ons pad. Dankie dat U die Ewige Lig is. Ons eer en aanbid U. Amen.