“Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid. Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word. Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!”
– Lukas 12:1-3
Fake is nou nogal in die mode. Dink maar aan die nuwerwetse salonne wat ons met fake naels en wimpers kan toerus. Die meeste vroue se haarkleur kom ook uit ’n botteltjie – veral as ons ouer word en die grys probeer wegsteek.
Fake het egter voordele. Dis baie meer omgewingsvriendelik om ’n fake pels of fake leer te dra as om ’n dier om die lewe te bring vir sy vel of pels. Wanneer ek as spreker optree, moedig ek ook ’n fake smile aan by mense wat gedurig dikbek is. Ek voeg darem by: Fake it until you make it. Ek glo vreugdevolle emosies sal jou inhaal wanneer jy jou mond doelbewus in ’n glimlag forseer in plaas van in ’n omgekeerde nors boog.
Ek moedig egter nooit mense aan om ’n fake en skynheilige Christelike geloof aan te trek as deel van hulle uitrusting nie. Ek het gevind heiligheid haal selde skynheilige mense in.
Vandag se vers waarsku ons teen fake (vals) Christenskap. Dit word vergelyk met suurdeeg wat ’n hele gemeenskap met dieselfde vals klanke kan vergiftig. Die tyd sal kom wanneer die Here elkeen wat heiligheid fake, sal ontbloot.
Maak seker net jou pels, naels of wimpers is fake, nooit jou Christenskap nie.
Bruisgebed vir fakers: Here, help my om nie ’n fake identiteit uit te leef nie, maar om my ware en opregte self voor alle mense te wees. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
