Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk (Jesaja 55:1).
In Jesaja 55 word die hoorders na ʼn feesmaal uitgenooi. God is die Gasheer en Hy deel verniet uit aan dié wat honger en dors is. Is dit ʼn toekomstige maal? Is dit ʼn maaltyd in die hede? Is dit regte kos en drank?
Die volk wat hierdie boodskap gehoor het, was in ballingskap en dit sou vir hulle onwerklik geklink het. Iets wat nie kan gebeur nie.
Miskien het die boodskap nie soseer te make gehad met die verandering van hulle omstandighede oornag nie, maar wel met ʼn gegewe waarheid ten spyte van politieke en sosiale omstandighede.
Een kommentaar sê hierdie woorde in Jesaja het die hoorders aangemoedig (prompted) om die volheid van die oomblik en die volheid van God raak te sien.
God in sy volheid is altyd teenwoordig, ongeag omstandighede.
Dankie vir die uitnodiging na u feesmaal waar U die Gasheer is, Here my God. Daar sal ek u volheid raaksien. Amen.
Lisel Joubert