U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
– Psalm 119:105
Ons almal word gereeld na partytjies genooi waarheen ons ’n geskenk of ’n bordjie eetgoed moet saamneem om die fees lekkerder te maak.
Ek het jare gelede graag groot partytjies gehou en almal wat ek ken daarheen genooi. Ek het egter geleidelik geleer daar is drie groepe mense wat my partytjies bywoon – die passiewe parasiete, die proaktiewe gifappels en interaktiewe flitsliggies.
Die parasiete, het ek gevind, is dié wat met leë hande en ’n mond vol tande daar opdaag. Hulle is nie regtig ’n aanwins vir enigiemand nie en maak staat op ander se lig, sonder om self ’n ligpunt te wees. Hierdie mense tap ander se energie.
Ek het ook geleer om die gifappels te vermy. Hulle bring graag ’n sak vol negatiewe gedagtes en ’n bordjie giftige stories na jou geselligheid toe. Gifappels demp die ligte feesgevoel met hulle negatiewe ingesteldheid.
Maar dan is daar ook die flitsies – die ligdraers. Hulle is die mense wat jy graag innooi. Hulle bring kleur en geur en speserye na enige geleentheid. Hulle daag met innerlike liggies op wat ander opbeur, bemoedig, inspireer of laat lag. Hulle is my bruistablet-vriende.
Ons as kinders van die Here word elke dag uitgenooi na sy groot partytjie van die lewe – by die werk, by die huis en op straat. Het jy al gedink wat jou bydrae is? Is jy ’n parasiet, ’n gifappel of ’n flitsie? Laat sy Woord jou lei om ’n groter ligdraer te word in elke situasie waarin jy jou bevind.
Bruisgebed vir ligdraers: Here, help my om elke dag meer bewustelik ’n flitslig op ander mense se pad te wees – tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
