Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink (Psalm 1:1-2)
Dietrich Bonhoeffer het goed geweet dat ʼn mens se eensaamheid, angste en frustrasies jou op onvrugbare paaie in jou denke kan lei.
Blootgestel aan die geweld en dwaasheid van Hitler se regime en afgesny van die vertroostende teenwoordigheid van familie en vriende, het hy dié versoeking byna daagliks ervaar in die tronk waar hy aangehou is.
Hieruit het sy skrywe aan sy goeie vriend Eberhard Bethge gevolg: “So we must keep on trying to find our way through the petty thoughts that irritate us, to the great thoughts that strengthen us.”
Eerstens was sy woorde natuurlik ʼn herinnering aan homself, ʼn soort selfterapie, ʼn manier om homself aan te praat wanneer hy te swaarmoedig en negatief begin word het. Tweedens bevat dit ook ʼn belangrike boodskap vir ons – ons wat soms so oorweldig voel deur neerdrukkende omstandighede en slegte nuus dat ons daarin vasval, gedurig daarop fokus en daaroor kla.
En dan vergeet ons om gedagtes te koester wat ons positief kan stem en ons geloof in die goeie kan versterk. Presies soos die psalmdigter wat ons aanmoedig om ons vreugde in die woord van die Here te vind.
Here, dit is soms soveel makliker om negatief te dink en te kla. Help ons vandag om ons gedagtes met u Woord te deurdrenk en dáárin ons vreugde te vind. Amen.
Carel Anthonissen