As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ‘n hulp … (Psalm 63:7-8).
Onlangs word ek gekonfronteer met die vraag of daar vir moderne mense nog enige nut of waarde in gebed is?
Die vraag dwing my om self weer na te dink oor die rol van gebed in my lewe.
Want dit ís so: Die meeste van ons se lewe het so haastig en vol geword dat ons maklik van gebed vergeet. En dan vra ‘n mens nog nie eers die belangrikste vraag nie, naamlik of daar hoegenaamd ‘n God is wat na gebede luister.
In Richard Llewellyn se bekende boek, “How Green was my valley”, gee die priester, meneer Gruffydd, ‘n eie antwoord op hierdie vraag. Terwyl hy die jonge Huw Morgan tydens ‘n langdurige siekte besoek, herinner hy hom:
“You’ve been lucky, Huw. Lucky to suffer and lucky to spend these weary months in bed. For so God has given you a chance to make the spirit within yourself. And as your father cleans his lamp to have good light, so keep clean your spirit. How? … By prayer, Huw. And by prayer, I don’t mean shouting, mumbling, and wallowing like a hog in religious sentiment. Prayer is only another name for good, clean, direct thinking. When you pray, think. Think well what you’re saying. Make your thoughts into things that are solid. In that way, your prayer will have strength, and that strength will become a part of you, body, mind, and spirit.”
Hier hoor ons iets van die helende, terapeutiese waarde van gebed, hoe dit in oomblikke van verwarring, kwelling en onrus ons denke kan suiwer en ons gees gesond kan hou.
Gebed het beslis hierdie nut. Maar dit is natuurlik veel meer, soos ons in die volgende paar dae sal hoor.
Here, in hierdie oomblik wil ons net ons onrustige gees tot rus bring en aan U dink. Amen
Carel Anthonissen