Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld geduld in swaarkry. Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde.
– Jakobus 5:10-11
Ons almal word nie met dieselfde hoeveelheid geduld en uithouvermoë gebore nie. Sommige mense het die gawe om groot swaarkry met geduld en ’n positiewe gesindheid te verduur, terwyl ander gou moed verloor en negatief word in hul seisoene van swaarkry.
Hoe vaar jy ten opsigte van geduld in jou uitgerekte woestyntye? Verduur jy, of versuur jy?
Job het nou en dan ongeduldig geraak en in opstand gekom teen die Here oor die onverdiende swaarkry wat hy so lank moes verduur. Hierdie opstandige en beskuldigende gesindheid teenoor die Here het egter nie Job se lyding weggeneem nie – inteendeel.
Op my reis as gelowige het ek ontdek dat ongeduld en opstandigheid my nêrens bring nie. Geduld is deel van die vrug van die Heilige Gees en ’n eienskap wat oor ongeduld en opstandigheid kan heers. Ek moes hierdie soort geduld in my verhouding met Hom aanleer.
As jy sukkel om in jou lang woestynseisoene geduldig en met ʼn goeie gesindheid op ’n goeie uitkoms te wag, kan die voorbeelde van die ou profete en ander Bybelkarakters wat in geloof vasgebyt het vir jou ’n inspirasie wees. Gaan lees gerus weer die boek Job.
Ek weet nie hoekom ons soms moet swaarkry nie, maar ek weet wel dat ongeduld nie help nie. Bid vir meer geduld in jou swaarkrytye.
Bruisgebed vir ongeduldiges: Vader, ek wil graag by die Bybelkarakters geduld leer. Rus my toe met goddelike geduld en uithouvermoë vir swaarkrytye. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.
