Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur – Romeine 12:15.
In sy boek Die doelgerigte lewe skryf Rick Warren: “Here, dit maak nie saak hoeveel ek vandag uitgerig kry nie. Ek wil tyd bestee om U lief te hê – en ander mense lief te hê. Want dít is waaroor die lewe gaan.”
Daar is baie alleenmense. Iemand is egter nie noodwendig alleen in ’n enkelwoonstel of in ’n kamertjie in ’n huis vir bejaardes nie. Ook nie wanneer hy in ’n hospitaal lê, dalk aan ’n rystoel gekluister is of alleen in ’n vreemde land bly nie.
Om sonder geselskap te wees beteken nie dat jy alleen is nie. ’n Mens kan alleen wees tussen jou geliefdes of tussen kollegas by die werk. Selfs in ’n stampvol kerk.
Alleenheid begin in jou binneste. Jy voel verstote, ongelief of vergete. Jy is oortuig jy beteken niks vir ander nie en niemand sal eens agterkom as jy nie daar is nie.
In ons gejaagde, vol lewe is ons dikwels blind vir die smagting van ander om net raakgesien te word. ’n Mens weet nooit wanneer ’n klein gebaar van omgee iemand weer menswaardig laat voel nie. Ons leef tussen mense wat uitgehonger vir die nabyheid van ’n medemens is. En ons ignoreer dit. Want dit is lastig. Dit vra tyd … En ons het ander belangrike dinge om te doen.
Ons is lede van Christus se huisgesin. Ons moet ons oë oophou vir medehuisgenote se eensaamheid wat dikwels fyn verbloem word. Ons moet mense met die liefde aanraak. Ons is mekaar se broers en susters.
Here, ek wil my hand na ander uitsteek. Amen.