Sy ma sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle gaan doen.”
– Johannes 2:5
In hierdie gedeelte sien ons Maria jare later as volwasse vrou en die ma van die volwasse Jesus. Let op dat Maria steeds oorgegee en gehoorsaam is aan God die Vader se opdrag aan haar. Dit is baie duidelik dat sy as ma baie bewus was daarvan dat haar Kind ongewoon was. Sy het gekies om Jesus as die Seun van God te volg, eerder as om aan te dring dat Hy haar moes volg en haar bevele as sy ma moes gehoorsaam.
Gaan staan in Maria as ma se skoene. Dit kon nie altyd vir haar maklik gewees het nie. Maria was egter baie sensitief en ingestel op God se heilige werking in haar. Daarom het sy haarself nooit op die voorgrond gedwing nie. Sy het nie ander met haar opinies oorheers
nie en nie die aandag op haar gevestig nie. Sy het altyd na Jesus heengewys.
Hierdie gebeurtenis – toe die wyn by die bruilof opgeraak het – wys weer vir ons Maria se gehoorsaamheid en oorgawe aan God se groot plan. Vir baie van ons sou Jesus se versoek seker belaglik gelyk het – om al die houers vol water te maak omdat die wyn op was.
Maria vra egter nie vrae nie. Sy het teen hierdie tyd al geleer om Jesus se versoeke – hoe vreemd ook al – te gehoorsaam.
Daarom het sy vir die kelners gesê: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen.”
Ons kan almal so baie by Maria se stil voorbeeld van volkome gehoorsaamheid leer. Doen wat Jesus vra en laat Hom toe om groot wonders in jou lewe te doen – om jou water in wyn te verander.
Bruistablet vir twyfelaars: Vader, gee dat ek nie sal weifel nie, maar u opdragte aan my sal gehoorsaam, al klink dit vir my hoe vreemd. Tot eer van u Naam.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.