God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal – 2 Korintiërs 4:6.
In die dorpie Prince Alfred Hamlet word daar elke jaar ’n Liggiefees gehou. Inwoners en besoekers van oraloor vergaap hulle aan die skouspel. Terwyl ons tussen die liggies deurstap, kyk ek op. In die swartblou lug bokant ons hang die maan. Ek besef: Die flikkerende liggies rondom my is tydelik, maar die maan is altyd daar, onverstoorbaar in sy wentelbaan.
Daar is diep wyshede wat soos die son en maan konstant in ons lewe is. Dit is die wysheid waarvolgens ons ons lewe moet inrig. Sommige wyshede is vlietende kersliggies wat kortstondig ons lewe verlig. Hulle is egter ook betekenisvol. Dikwels gee ’n enkele WhatsApp-gedagte hoop vir ’n dag wat donker voor ons uitstrek.
In haar gedig “Komma” beskryf Sheila Cussons ’n vuurvliegie wat op haar hand kom sit:
’n Glinstervliegie kleiner as ’n komma
kom sit vertrouend op my hand
en begin sy persoon te versorg, […]
soos hý so tuis
vermetel tuis is ek in U:
O Onveranderlike, Oneindigende, Onbeginnende Woord deur Wie ’n klein verrukte vuilerige kommatjie flits.
Here, maak my oë en hart oop vir al die gedaantes waarin wysheid by my kom aanklop. Dankie dat ek, “verrukte vuilerige kommatjie”, ook ’n draer van u wysheid mag wees. Amen.