Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in hulle harte gegee, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil – Prediker 3:11 (2020-vertaling).
Daar pols ritme oral in en om ons. ’n Mens moet net fyn luister.
Die ritmes is daar, soos die ligte heen-en-weer-beweging van ’n speelparkswaai. Die ligte deining van ’n babatjie se asemhaling. Die voetval van ’n vroegoggenddrawwer op ’n nat teerpad. Die metronoom se tjiek-tjiek-tjiek-tjiek op ’n klavier.
Ons moet ook oop wees vir die skepping se onhoorbare, onsigbare ritmes. Dit is ingebou in die skepping. Die ritme van dag en nag. Die patroon van ’n week, elke dag se unieke gevoel. Ons beleef die onverstoorbare gang van die seisoene. Lente. Somer. Herfs. Winter. Ons stu vorentoe saam met die lewe se afgemete ritmes. Geboorte. Groei. Wasdom. Ouderdom.
Binne-in hierdie groot skeppingsritme waarvan ons deel is, is daar ook ’n ritme in onsself. Daar is siklusse wat voltooi moet word. Ons persoonlikheid groei. Ons ontwikkel ons talente. Ons berei onsself voor vir ’n beroep. Ons raak deel van die ritme van werk en huis en moontlik ook die huwelik en ouerskap – met al die ingeboude klein en groot ritmes van elke lewensfaset.
Dit verg wysheid om God se ritme vir ons saam met al die ander lewensritmes te laat klop. Ons moet dus ons tyd so benut dat ons ook tyd aan die onverganklike dinge bestee.
Here, ek wil op maat van u ritme lewe. Amen.