“Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? … Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê” – Matteus 11:28 (Die Boodskap).
Daar is grense wat jy net met die hulp van die Heilige Gees kan oorsteek. Dinge uit ’n mens se kleintyd en verlede, asook swaarkry, laat jou dikwels skanse oprig. Elke soort pyn dra sy eie eensaamheid saam wat jou van ander afsluit.
Soms probeer mense alleen hul koers in die donkerte van swaarkry vind. Hulle smag na iemand wat sal luister en verstaan. Maar tog deins hulle terug.
’n Pa wat sy werk verloor het, vertel dat hy homself intuïtief wou beskerm. Niemand moes weet hoe sleg dit regtig met hom gaan nie.
“Dit was vir my ’n geweldige spanning om my beeld as pa in stand te hou. Ek het kortgebaker en in myself gekeer geraak. Op ’n dag het ek besef dat ek iets voorgee wat ek nie is nie. Toe het ek my gesin in my vertroue geneem. In plaas van afkeer, het ek hul liefde en begrip gekry. Dit was ’n bevrydende ervaring.”
Ons moet in ons pyn by God gaan sit om weer perspektief te kry. Vanuit hierdie afsondering kan heling begin. Uiteindelik kan ons ons luike oopgooi en mense toelaat om binne te kom.
Here, ek wil my luike oopgooi en lééf! Amen.