My seun, behou die takt en oorleg; moet dit nie uit die oog verloor nie, dit sal vir jou ’n mooi lewe verseker en soos ’n pragtige halssnoer vir jou wees – Spreuke 3:21-22.
’n Wyse man oorweeg sy woorde en sy dade. Hy het takt en oorleg. Hy tree nie halsoorkop op nie. Salomo waarsku jongmense hier om dit nooit uit die oog te verloor nie. Die soeker na wysheid mag nie in sy toewyding verslap nie, maar moet in alle omstandighede onthou om goed na te dink voordat hy praat of doen.
Wanneer ons na Spreuke 3:21-22 in die 1933/1953-vertaling kyk, kom daar nuwe betekenislae na vore: “My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg, dan sal dit die lewe wees vir jou siel en ’n versiersel vir jou hals.”
Die Hebreeuse woord vir “siel” kan onder meer vertaal word as “lewende wese” of “self ”. “Lewe vir jou siel” beteken dan dat jy verseker kan wees van die lewe in die volste, rykste sin van die woord. Dít is hoe die lewe van ’n wyse man of vrou lyk.
Wysheid is ook ’n “versiersel vir jou hals”. Dit bring dus grasie en skoonheid vir die “draer” van wysheid. ’n Wyse mens is verseker van ’n lewe soos God dit vir ons bedoel: dit straal van binne en buite. Dit is die lewe wat God graag vir ons wil skenk.
Here, dankie dat U ’n lewe vol skoonheid en innerlike volkomenheid belowe vir dié wat hul oog op wysheid hou. Amen.