Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was – 2 Timoteus 3:14.
Soms weet mense wat die regte ding is om te doen. Hulle ken die Bybel. Hulle ken Christus. Maar dan kom daar iets verby wat hul oë verblind.
Daar is ’n legio versoekings. ’n Geleentheid om op ’n twyfelagtige manier geld te maak. Die kans op bevordering deur iemand anders in ’n slegte lig te stel. Die moontlikheid dat jou kind in ’n gesogte sportspan opgeneem kan word. Jy doen enigiets moontlik ter wille van jou kind. Al is dit om ’n onderwyser subtiel te beïnvloed of ’n ander kind af te kraak.
In al hierdie dinge wéét jy dat jy fouteer. In jou dwaasheid hou jy egter hardkoppig daarmee vol, want jou begeerte oorskadu alle ander dinge. Dit benewel jou oordeelsvermoë. Al wéét jy wat die regte ding is om te doen, volhard jy in jou pogings om jou eie selfsugtige doel te bereik.
Hebreërs 3:7-8 (Nuwe Lewende Vertaling) waarsku: “Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê: ‘Vandag, wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie, toe hulle God se geduld in die woestyn getoets het.’”
Ons wat Christus ken en liefhet se pad is vir ons uitgestippel. Sy Woord gee vir ons duidelike riglyne vir die lewe. En Christus self wys vir ons hoe om in die praktyk as regverdiges te lewe. Dit is ons plig om nie hardkoppig ons eie dwase koers in te slaan nie.
Here, bewaar my van dwase hardkoppigheid. Amen.