Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?
– 2 Korintiërs 6:14
Die meeste van ons se huise is omring met heinings wat ongewenste mense uithou en hekke wat gewenste mense inlaat. Terwyl dit nodig is om as Jesus se volgelinge ’n ruimte van hartlikheid en gasvryheid rondom ons te skep, is dit net so belangrik om gesonde heinings of
grense te hê om booswigte en nadelige elemente uit te hou.
Om goeie en slegte invloede van mekaar te onderskei is nie altyd maklik nie. So baie mense lieg, bedrieg of trek skaapklere aan om hulle wolf- of jakkalspersoonlikheid te kamoefleer. Vra die Here om jou geestesoë te verhelder sodat jy die ware persoon agter die masker
kan raaksien en identifiseer. Dit sal jou help bepaal of jy die hek na jou hart kan oopmaak, en of jy eerder ’n heining moet oprig om jouself te beskerm.
Wanneer ons ’n vennootskap met ’n vals vriend aangaan, kan niks goeds daaruit voortkom nie. Daar kan ook niks goeds van kom wanneer iemand van die lig met iemand van die duisternis saamspan nie. Die uitkoms is altyd ontnugterend.
As gelowiges is dit nodig om te weet dat ons elke dag ’n geestelike stryd in die wêreld voer. Dié stryd is tussen goed en kwaad. Maak seker jy is nie die slagoffer van ’n manipulerende mens wat jou goedgelowigheid wil uitbuit nie. So baie goeie mense was al die slagoffer
van donker mense wat hulle as ’n engel van die lig voorgedoen het.
Vra die Here om vir jou te wys wanneer jy duideliker grense moet vasstel om jouself teen aanslae van die vyand te beskerm.
Bruisgebed vir beskerming: Vader, wys vir my waar ek heinings en grense rondom my moet oprig om alle vyande buite te hou sodat ek nie ’n slagoffer van die Bose sal word nie.
Susan Coetzer, Bruistablette vir die lewe, 2018. Gereproduseer met toestemming van Lux Verbi, ’n druknaam van NB-Uitgewers.