Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is – Spreuke 3:5-7.
Dikwels voel ouers onmagtig. Hulle weet eenvoudig nie wat die beste vir ’n kind in ’n bepaalde situasie is nie. Hulle dink en herbedink al die moontlike opsies. Hulle bid, maar kry nie duidelike antwoorde nie.
Net soos Moses deur God as leier van die Israeliete aangestel is en hulle vir wysheid en leiding na hom opgesien het, so is ouers oor hul kinders aangestel. Soos Moses sy arms moes oplig om te verseker dat die Israeliete die oorhand in hul geveg teen die Amalekiete behou, moet ouers hul hande biddend omhoog hou wanneer hulle hul kinders grootmaak.
Wanneer ons taak as ouers egter vir ons te groot word en ons arms te moeg, moet ons toelaat dat godvresende mense ons arms help oplig – net soos Aäron en Hur Moses ondersteun het.
Dikwels is ons te verleë om iemand se hulp of raad te vra. Of ons is te trots. Wat sal ander van my dink? Dit sal lyk of ek nie weet hoe om my kinders se probleme te hanteer nie. Ek sal soos ’n lomp, onbekwame ouer lyk. Nee, ek sal liewer self. Kom wat wil!
In Galasiërs 6:2 sê Paulus baie duidelik: “Dra mekaar se laste.” Dit is ’n opdrag en ’n voorreg.
Here, ek wil ander toelaat om my laste te help dra. Amen.