Boodskap vir Vandag

Search

Hieraan moet ons vashou

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder … (2 Sam 22:1) … my God gee lig as dit donker is om my (2 Sam 22:29).

Die geskiedenis van koning Dawid bevat ‘n yslike stuk ironie.

Want waar sy lewe aanvanklik geseënd en voorspoedig was, verander dinge ná sy owerspel met Batseba redelik dramaties. Hierna strompel hy van die een krisis na die ander. Ons hoor hom meermale kla en huil (2 Sam 12:22, 19:1).

En hoe anders ook wanneer jou geliefde dogter deur ‘n familielid verkrag word (2 Sam 13), ou bekendes jou begin vloek (2 Sam 16) en jou eie seun teen jou in opstand kom (2 Sam 15).

Slegter kan dit amper nie.

Maar is dit nie hoe ons eie geskiedenisse en lewe soms lyk nie – deurspek van onverwagse krisisse, teleurstellings en terugslae? En dan praat ‘n mens nie eers van die blatante leuens, korrupsie en onreg wat ons samelewing gereeld teister en laat steier nie.

Hoe moeilik, ondraaglik en onbegryplik die lewe ook al is, as gelowige mag ons hieraan bly vashou: Dat daar ‘n goeie en genadige God is wat steeds oor alles troon – ‘n God wat ons miserabele geskiedenis steeds in sy hande hou. En wat ons nooit sal los of verlaat nie.

Dawid het in sy swartste nag gelukkig ook dít ervaar. Daarom kon hy skryf: “… my God gee lig as dit donker is om my” (2 Sam 22:29).

Here, dankie dat U oor alles, ook oor ons donker geskiedenis, troon. Help ons om dááraan vas te hou. Amen

Carel Anthonissen

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed